3 Groot avonture vir jou emmerskop-lysie!

3 groot avonture vir jou emmerskoplysie!

3 Groot avonture vir jou emmerskop-lysie!

Geskryf deur: Danielle Kleyn

Aandag mede-avontuurlustiges, hier is drie aktiwiteite in Suid-Afrika wat jy beslis by jou emmerskoplysie moet voeg.

Rekspring (bungee jumping)

Indien jy in of naby Johannesburg bly, kan jy by die Soweto Towers gaan rekspring vanaf ‘n hoogte van 100m. Jy kan selfs ‘n DVD of foto’s koop om jou aan hierdie belewenis te herinner (as jy dit wel gedoen het en vir ons foto’s kan stuur, staan jy ’n kans om ’n “Where Legends Are Made” Republk-T-hemp te wen!).

Kaapenaars kan by Afrika se hoogste brug, Bloukrans, geleë op die N2 tussen die Oos-Kaap en Wes-Kaap, gaan rekspring. Enige persoon ouer as 14 wat tussen 35 en 150 kg weeg, kan hierdie avontuur aanpak. DVD’s en foto’s is ook hier beskikbaar. Die sprong is sowat 216 m diep, wat die Bloukransbrug die wêreld se hoogste kommersiële rekspringbrug maak!

Duik saam met die haaie

Met die voortdurende afname in verskeie haaispesies moet dit beslis op enige diereliefhebber se emmerskoplysie wees om saam met die haaie te gaan duik.  Jy het geen spesiale opleiding nodig nie—net genoeg moed! Moet egter nie te veel bekommer nie; jy is te alle tye veilig binne-in ’n staalhok.

Gansbaai spog met die grootste bevolking grootwithaaie ter wêreld, wat dit die  perfekte bestemming vir hierdie aktiwiteit maak.  Die rede hiervoor is dat dit naby Dyer-eiland is, waar daar sowat 50 000 robbe is. 

Dit is ook moontlik om hierdie aktiwiteit in Durban te beoefen. ’n Verskeidenheid haaie, onder andere die tierhaai, kan hier bespeur word.

Staproetes

Dit maak sin dat Leeukop in die Moederstad een van die bekendste staproetes onder toeriste en plaaslike inwoners is. Terwyl jy klim, kan jy onder andere Tafelberg,  Clifton- en Kampsbaai-strande, asook die Twaalf Apostels-bergreeks sien. Dit neem ongeveer 90 minute om een van die twee roetes na Leeukop uit te klim.

Nog ’n skilderagtige plek om te stap, is die Drakensberge, met ’n verskeidenheid staproetes wat by enige fiksheidsvlak pas. Die Drakensberge huisves byna 40% van alle nie-mariene voëlspesies in Suid-Afrika, wat dit die ideale staproete vir voëlkykers maak. Kry vandag nog vir jou ’n damesKaalvoet oor die Drakensberge- of mansDrakensberg-T-hemp om by die geleentheid te pas!