- Wakkerstroom, Mpumalanga
Die dorp Wakkerstroom word die juweel van Mpumalanga genoem. Die woorde “tussen riviere en berge” is juis van toepassing op dié dorp wat as een van die mooiste dorpe in Suid-Afrika beskou word. Wakkerstroom is in 1859 gevestig en die dorp se naam is ’n Afrikaanse vertaling van die Zoeloenaam vir die rivier wat naby die dorp verbyvloei, die uThaka, (Wakker). Die dorp is deur Dirk Cornelius Uys op die plaas Gryshoek gestig. Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Britte ’n lyn van een-en-twintig blokhuise tussen Volksrust en Wakkerstroom gebou en honderd tussen Wakkerstroom en Piet Retief. Die blokhuise is gebou om die Britse toevoerroete vanaf Durban te beskerm.
Wakkerstroom is ’n ideale naweekwegbreekplek met bergfiets- en staproetes vir natuurliefhebbers. Daar is ook twee groot damme net buite die dorp waar vissers ’n lekker sonnige dag langs die water kan deurbring. Vir voëlkykers is Wakkerstroom ook een van die topbestemmings in Suid-Afrika en hier kan hulle sowat 350 spesies besigtig.
- Cradock, Oos-Kaap
Hierdie dorp in die Karoo is bekend vir sy swaelbron, wat besoekers by die dorp se unieke spa bederf. Die Groot-Visrivier vloei deur die dorp, daarom is dit ook gewild onder vissers. Natuurliefhebbers kan stap- en 4x4-roetes geniet waar jy jou bakkie lekker vuil kan maak.
In die dorp kan jy ’n paar nagte by Die Tuisuisie en Victoria Manor tuisgaan. Daar is ook verskeie padstalletjies en koffiewinkels waar jy ’n lekker peuselhappie kan geniet.
- Haenertsburg, Limpopo
Die dorpie is vernoem na Carl Ferdinand Haenert, wat in 1886 saam met sy broer goud in die heuwels ontdek het. Nadat die nuus bekend geword het, het die dorp die kern van die Woodbrush-goudveld geword. Die dorp is ook bekend vir sy jaarlikse Lentekermis, waar verskeie blomme-uitstallings gehou word.
Die hoë reënval, mis en groenigheid van Haenertsburg is soortgelyk aan dié van Kananda en sorg vir pragtige natuurskoon. Dinge om in die dorpie te doen, sluit in om deur die woud te zipline, staproetes soos die Magoebaskloofpas te volg, kloofsprong te doen in die George’s Valleikloof of ’n besoek aan Wegraakbosch te bring vir ’n kaasproe.
- Loxton, Noord-Kaap
Loxtan is ’n klein dorpie in die Noord-Kaap wat veral bekend is vir sy skaapboerdery. Loxtan is een van Suid-Afrika se grootste wolverskaffers en ook die grootste knoffelverbouer in Suid-Afrika.
Vir diegene wat effens nostalgies is, spog die dorp met Victoriaanse geboue, donkiekarre en die Old Truck-motormuseum, met ’n versameling motors wat uit die Eerste Wêreldoorlog dateer.
- Bethulie, Vrystaat
Die dorp lê sowat 90 minute suid van Bloemfontein. By die Ou Vellies Sleep-Inn kan jy ’n toer reël om al die besienswaardighede uit die Anglo-Boereoorlog te besigtig. Of besoek die Pellissierhuismuseum. Die museum is die oudste setlaarshuis in die Vrystaat.
Daar is ook ’n verskeidenheid aktiwiteite in die dorp:
- Die Red Barn Gallery, waar jy pragtige skilderye kan besigtig.
- Die Transgariep Museum
- Champagne-staproete