Geskryf deur: Danielle Kleyn
Met sowat 850 opgetekende voëlspesies is dit geen verrassing dat voëlkyk in Suid-Afrika vinnig besig is om ’n baie gewilde buitelugaktiwiteit te word nie. Die voëlkykseisoen strek hoofsaaklik van September tot Maart, maar niks verhinder jou om die res van die jaar ook hierdie stokperdjie te beoefen nie.
Wat jy nodig het om ’n bobaasvoëlkyker te word:
- ’n Verkyker.
- ’n Voëlgids of toepassing. Daar is verskeie voëlgidse op die rak wat dit vir jou baie makliker sal maak om die voëls wat jy sien, te identifiseer en af te merk. Daar is ook ’n paar toepassings, soos South African Bird Identifier, wat dieselfde doel dien.
- Baie geduld. Dit mag dalk ’n rukkie neem om die skaarser voëlspesies onder oë te kry, maar dit is beslis die moeite werd.
Waar om jou nuutgevonde stokperdjie te beoefen:
Die wonderlike ding van voëlkyk is dat jy dit enige plek kan beoefen, selfs in jou eie tuin! Hier is egter een plek in elke provinsie waar verskeie voëlspesies volop voorkom.
- Die Nylsvlei-natuurreservaat in Limpopo is die tuiste van sowat 370 voëlspesies, wat dit die ideale plek maak om hierdie aktiwiteit aan te pak. Tydens die hoogtepunt van die vloedseisoen is daar al 80 000 voëls getel, waarvan die meeste watervoëls was.
- Die Pretoria Botaniese Tuine spog nie net met ’n verskeidenheid dierspesies nie, maar ook met 220 gelyste voëlspesies.
- Die Giant’s Castle-natuurreservaat in die Drakensberge is die tuiste van ongeveer 140 voëlspesies, waaronder die sekretarisvoël, lammergeier en bloukraanvoël, Suid-Afrika se nasionale voël.
- Die Kirstenbosch Botaniese Tuine in Kaapstad is een van die gesogste botaniese tuine ter wêreld. Dit is dus geen verrassing dat meer as 100 voëlspesies, soos die oranjeborssuikerbekkie en die Afrikaanse sperwer, hier waargeneem kan word nie.
- Vir voëlkykers in die Noordwes-provinsie bied die Pilanesberg Nasionale Park die geleentheid om meer as 300 voëlspesies te sien, waaronder die groenrugreier en kuifkopvisvanger.
- Die Saragossa-wildreservaat in die Waterval Boven-gebied van Mpumalanga spog met die Knysna-loerie, kortbeksuikerbekkie en sowat 125 ander voëlspesies.
- By die Dronfield-natuurreservaat, sowat 10 km van Kimberley af, is al 140 voëlspesies gesien, waaronder die witrugaasvoël en rooiborslaksman.
- Die Golden Gate-natuurreservaat in die Vrystaat spog met ’n indrukwekkende 250 voëlspesies. As jy die dassievoël, breëkoparend of bergwagter van jou lysie wil afmerk, is dit dus die perfekte plek.
- Die bekende Addo-olifantnasionalepark in die Oos-Kaap is die ideale plek om ’n verskeidenheid voëlspesies, soos die bokmakierie, gewone janfrederik en Knysna-papegaai, van jou lysie af te merk.