Kampplekke om in Gauteng te ontdek

Kampeerplekke om in Gauteng te ontdek

Kampplekke om in Gauteng te ontdek

- Danielle Kleyn.

Dit is nou al meer as honderd dae sedert die landswye inperking weens die COVID-19-uitbreking aangekondig is. Intussen het ons gelukkig na vlak twee afbeweeg en word reis tussen provinsies toegelaat. Volgelinge van die Republk-leefstyl is altyd op soek na hul volgende avontuur. Hier is ’n paar kampplekke in Gauteng vir wanneer die kampgogga jou byt.

  1. Ruah Park

Ruah Park is in die pragtige Waterberg-bosveld, sowat 30 km vanaf Pretoria, geleë. Daar is 38 kampplekke, elk met sy eie private ablusiegeriewe. Van die aktiwiteite wat hier geniet kan word, is visvang (vang en laat los), stap en voëlkyk.

  1. Zwartfontein Oord

Zwartfontein Oord is in die hartjie van Vereeniging geleë, 10 km vanaf die naaste dorp, Vaal Marina. Troeteldierliefhebbers kan hul vierpotige kinders saamneem indien hulle vooraf met die oord reël. Hengel en ’n verskeidenheid staproetes is van die aktiwiteite wat hier aangebied word.

  1. Sionbergh Kampterrein

Hierdie kampterrein, wat op ’n plaas in Heidelberg naby die Suikerbosrand-natuurreservaat geleë is, is die ideale wegbreek van die geraas van die stad. Avontuurlustiges kan bergfiets ry, visvang (vang en laat los), voëlkyk en stap. Dit is kindervriendelik en toegerus met ’n klimraam, swembad en hindernisbaan. Daar is gemeenskaplike ablusiegeriewe vir die kampterrein.

  1. Shangrila Innibos

Shangrila Innibos is in Hartbeespoort geleë en het luukse kampeerplekke met private ablusiegeriewe, asook ’n pragtige verskeidenheid selfsorgeenhede. Die aktiwiteite wat op die terrein beskikbaar is, sluit wildkyk, stap, bergfietsry en swem in. Kinders sal ook nie ’n tekort aan vermaak hê nie: daar is ’n speelpark op die perseel en talle ander aktiwiteite in die omgewing.

  1. Thorn Tree Bush Camp

Thorn Tree Bush Camp is in die skilderagtige Dinokeng-natuurreservaat geleë en is die perfekte plek vir ’n Afrika-avontuur. Elke tent en kothuis is toegerus met ’n privaat kombuis en braaiarea. Met ’n lang lys aktiwiteite soos voëlkyk, gholf, visvang, begeleide staproetes en wildritte sal niemand verveeld raak nie.

  1. Berg en Rivier

Berg en Rivier in Bronkhorstspruit het nie net selfsorgeenhede nie, maar bied ook ’n tentkamp met safaritente en luukse lod verblyf. Daar is bergfietsroetes en ander aktiwiteite soos voëlkyk, bergklim, swem, hengel en ander wateraktiwiteite op die terrein beskikbaar.

Met die lente om die draai is dit weer tyd om die mooi Suid-Afrikaanse natuur te geniet! Laat weet ons gerus waar jy gewoonlik kamp!