Ons top 3 Stapuitdagings vir die jaar!

Ons top 3 stapuitdagings vir die jaar!

Ons top 3 Stapuitdagings vir die jaar!
  • Geskryf deur Danielle Kleyn.

Daar is min dinge so verkwikkend soos om tyd in die natuur deur te bring. Een van die maklikste en goedkoopste maniere om weer met die natuur in aanraking te kom, is om te gaan stap. Stap hou boonop talle gesondheidsvoordele in, waaronder ‘n verlaagde  risiko vir hartsiektes en verbeterde bloedsomloop. Onder aan die artikel kan jy 'n gratis e-boek aflaai met 40 staproetes in Suid-Afrika wat volgens provinsie ingedeel is. Maar intussen is hier drie stapuitdagings wat jy móét aanpak. Trek dus jou stapskoene aan, gryp jou hoed en maak gereed vir 'n groot avontuur!

Die Amatola-staproete (Oos-Kaap)

Hierdie staproete is 'n volle 100 km lank en begin by die Maden-dam, sowat 23 km van King William's Town af, en eindig vyf dae later in die bergagtige Hogsback. Die Amatola word as een van die moeilikste staproetes in Suid-Afrika beskou en moet nie onderskat word nie; daarom word dit slegs vir ervare stappers aanbeveel. Watervalle, groen woude en bergpieke begroet jou terwyl die vars lug jou longe vul. Talle stappers het die natuurskoon al met dié in die Lord of the Rings-boeke vergelyk. Diere soos die Knysnaloerie, Kaapse papegaai, reusagtige erdwurms (wat langer as 1 meter kan word), bosvarke en reuse-goudmolle kan hier waargeneem word. Die ideale tyd om die Amatola aan te pak, is in September, wanneer dit nie uitermatig warm of koud is nie. 

Die Otter (Tuinroete)

Hierdie roete, wat as die oudste staproete in Suid-Afrika bekendstaan, is 42,5 km lank en word oor vyf dae gestap. Dit begin by die Stormsriviermond en eindig by die Grootriviermond in die Nature's Valley-deel van die Tsitsikamma-natuurreservaat. Soos die Amatola-staproete verg hierdie staproete ook 'n mate van fiksheid, maar enigiemand tussen 12 en 65 jaar kan hierdie avontuur aanpak. Die beste tyd om dié staptoer aan te pak, is in die lente of herfs, wanneer dit nie te warm is nie. Die hoogtepunt van hierdie avontuur is beslis op die vierde dag, wanneer die Bloukransrivier oorgesteek word deur daardeur te swem. Die natuurskoon is indrukwekkend en sluit spierwit strande, dramatiese klowe en  welige fynbos  in. Bobbejane, dolfyne, bokke en sowat 371 voëlspesies is van die diere wat jy onderweg kan teëkom. Omdat hierdie staproete op talle mense se emmerskoplyste is, word belangstellendes aangemoedig om hul plek 'n jaar vooruit te bespreek. 

Die Walvis-staproete (Wes-Kaap)

Hierdie vyfdaagse staproete begin by Potberg in die De Hoop-natuurreservaat en eindig by Koppie Alleen, wat ook deel van die De Hoop-natuurreservaat is. Die staproete is 55 km lank en sluit vyf oornagplekke in. Die moeilikheidsgraad is matig en die eerste dag word as die moeilikste beskou – dit is 14,7 km lank en behoort die gemiddelde stapper sowat agt uur te neem om te voltooi. Stappers kan uitsien na die ongerepte natuurskoon van die reservaat, terwyl die geur van fynbos en die geluid van branders wat teen die rotse breek hulle langs die roete bekoor. As jy gelukkig is, kan jy die laaste oorblywende broeikolonie van  Kaapse aasvoëls teëkom. Die De Hoop-natuurreservaat is ook 'n bekende plek om walvisse te sien gedurende die wintermaande (Junie tot November), wanneer walvisse ons kuslyn besoek om die vlak kuswater te geniet.

VIR 'N GRATIS E-BOEK OOR DIE TOP 40 STAPROETES IN SUID-AFRIKA, KLIK HIER.

As jy foto's van jou laaste stapavontuur het, kan jy dit met ons deel by info@republk.co.za of ons op sosiale media “tag”, sodat ons dit aan die res van die Republk-familie kan wys.