Behalwe vir legkaarte, tuinmaak, verf en boeke lees is daar nog drie maniere waarop jy jou kreatiwiteit kan uitleef en dié jaar jou vrye tyd werklik meer produktief kan bestee. Die lewe is immers ’n avontuur, nie ’n renbaan nie.
LEER ’N NUWE TAAL
Om ’n nuwe taal te leer is nie net goeie oefening vir ons brein nie, maar ook ’n uitstekende manier om die kommunikasiegaping tussen nasies te oorbrug. En aangesien jy in elk geval besig is om jou volgende oorsese reis te beplan, kan jy net sowel die taal ook baasraak! Stel jou voor jy kan Frans in Frankryk praat of Duits by die Duitse bierfees! Maak seker jy het iemand met wie jy gereeld in die taal kan gesels, of gebruik die Duolingo-toepassing om te leer.
Die internet is weereens ’n skatkis vol hulpbronne. Daar is baie gratis webwerwe en programme om jou te help om enige taal te leer.
LEER HOE OM TE KOOK OF TE BAK
As jy heelwat tyd by die huis het, is dit ’n wonderlike geleentheid om jou kookvaardighede in die kombuis op te skerp en saam ’n heerlike ete op te dis. Daar is geen beter tyd om jou “Kook en Geniet” nader te trek nie.
Die afweeg van bestanddele en die volg van ’n resep kan ook help om jou kinders se syfervaardighede te ontwikkel. Ons verdien almal ’n lekkerny of twee in hierdie onsekere tye, so dit is dalk nou die tyd om jou innerlike kok te ontdek.
OEFEN
Wie sê jy kan net in die gimnasium oefen? Daar is baie oefeninge wat jy in die gerief van jou eie huis kan doen, en jy het geen spesiale toerusting nodig nie. Oefening is die produktiefste stokperdjie wat jy kan aanleer!