Trots Suid-Afrikaanse uitvindsels

Trots op Suid-Afrikaanse uitvindings

Trots Suid-Afrikaanse uitvindsels

’n Paar merkwaardige dinge wat Afrikaners oor ons bestaansgeskiedenis behaal het:

1.  Sasol (Suid-Afrikaanse Steenkool en Olie) 

SASOL is ’n merkwaardige suksesverhaal wat reeds uit 1950 dateer.  Secunda, Sasol se hoofaanleg, is die enigste kommersiële installasie ter wêreld wat steenkool in vloeistof omskakel. Dit maak SASOL die grootste vervaardiger van sintetiese brandstof. Die brandstof was reeds in 1955 by vulstasies in Suid-Afrika beskikbaar.

2. Dolosse

Dolosse is gewapende sementblokke in ’n komplekse geometriese vorm wat regoor die wêreld as golfbrekers gebruik word. Die dolos is in 1963 deur tekenaar Aubrey Kruger ontwerp en is die eerste maal in Oos-Londen gebruik.  

3.  Vlamionisasiedetektor

Die wetenskaplike instrument meet analiete in die damp van ’n gas.  Hierdie masjinerie is gelyktydig in Suid-Afrika en Nieu-Seeland ontwikkel.  In Suid-Afrika is die tegnologie deur Victor Pretorius en J. Harley aan die Universiteit van Pretoria ontwikkel.  Pretorius was ’n direkte afstammeling van Andries Pretorius.  

4. Cybertracker

Fisikus Louis Liebenberg en rekenaarwetenskaplike Lindsay Steventon het die Cybertracker in 1996 ontwikkel.  Die tegnologie word gebruik om diere van alle groottes en vorme op te spoor en maak gebruik van ’n satellietnavigasiestelsel soortgelyk aan GPS.  Deur middel van die tegnologie kan wetenskaplikes die beweging en migrasie van diere vanuit die gemak van hul laboratoriums dophou.  

5. Mxit

Mxit is in 1997 deur Herman Heunis in Stellenbosch ontwikkel.  Die kommunikasiediens is ontwikkel weens die hoë koste van SMS-boodskappe.  Mxit is amptelik in 2006 bekendgestel en is op sy hoogtepunt deur sowat 7,2 miljoen mense in 120 lande gebruik.

6. Die wêreld se eerste goudmuntstuk met ’n ons-denominasie, die Krugerrand, is op 3 Julie 1967 deur die SA Munt geslaan.  Die naam Krugerrand is afgelei van Paul Kruger se naam.  

7.  Die maatskappy Remgro, met belange in die bankwese, finansiële dienste, verpakking, glasprodukte, mediese dienste, mynbou, petroleum, voedselvervaardiging en talle ander bedrywe, is in 2015 as die 9de grootste publiek verhandelde maatskappy in Suid-Afrika en die 1436de ter wêreld gelys.  Die maatskappy het ontstaan uit Voorbrand-tabak, wat in die 1940’s deur dr. Anton Rupert begin is.  

8. Hartoorplanting:  Die wêreld se eerste mens-tot-mens-hartoorplanting is op 3 Desember 1967 deur dr. Chris Barnard uitgevoer.  Barnard het ’n dekade se ervaring as kardioloog gehad voordat hy en ’n span van dertig, onder wie sy broer Marius Barnard, op dié dag die eerste suksesvolle oorplanting uitgevoer het.  Die pasiënt, Louis Washkansky, het 18 dae ná die operasie geleef voordat hy weens komplikasies gesterf het. 

9. Penisoorplanting

Die eerste suksesvolle penisoorplanting is in Desember 2014 deur André van der Merwe van die Universiteit Stellenbosch uitgevoer.  

10.  Anton Rupert was een van die stigters van die WWF (World Wildlife Fund), die grootste bewaringsorganisasie ter wêreld, met meer as vyf miljoen ondersteuners wat in 100 lande werksaam is.

11.  Die eerste MBA-program buite Noord-Amerika is in 1949 aan die Universiteit van Pretoria aangebied—in Afrikaans.